Saturday, September 4, 2010

Vroegoggend in Frankryk

Lynnboerin sê
Ek kon myself maar net nie meer bluf nie – klaasvakie het my beslis verbygegaan die nag en het besluit om, eerder as om rond te rol soos 'n tolbos in my bed, op te staan en produktief te wees.

En sommer gou 'n lyntjie vir julle daar onder in Afrika te griffel voor ek die croissants in die oond gaan druk vir die gaste. My laaste oggend aan diens voor ons wegbreek vir 'n paar dae na 'n piepklein eilandjie aan die Franse weskus om ons gebeendere te 'balm' en op dreef te kry vir die Afrika ekspedisie wat een van die dae hier by ons gaan uitslaan!


Veral na ek Marita se geskryf op die blog gelees het waar sy praat van 'die wat weet' het ek geweet dat julle maar moet vat wat julle kry. Te laat om nou vir Dr Deon te bel en vra vir 'n totale oormaak 'Nip en Tuck' styl voor Marita, Marike en die oulike kameraman aankom.

Wat ek wel gedink het is om vir julle een aspek van kos in Frankryk te oorskryf en dit is dat die Franse leef om te eet en nie eet om te leef nie.

Een van die dinge wat my verstom gehad het toe ek eers in Parys aangekom het 20 jaar gelede is dat hulle die stad sal oorkruis om 'n bagette by 'n sekere bakkery te koop en kaas by 'n ander kaaswinkel ens. as in die gebied waar hulle bly want dit is net die beste! (Maar ek moet sê dat mens daarmee begin saamstem en self doen!) Ek onthou my kaastannie in die Rue des Martyrs wat altyd vir my gevra het teen watter tyd die aand ek my kaasbord gaan bedien, want sy wou my 'n Camembert gee wat presies reg sal wees teen die tyd wat ek die kaas bedien. Wonderlik sê ek en net nog 'n rede hoekom ek Frankryk my aangenome land gemaak het.

En nou moet ek my ontbyt tafel klaarkry en so tussendeur 'n boek of twee uitsoek vir my hopeloos te kort vakansie! Chat gou weer! Froggie hugs



No comments:

Post a Comment