Wednesday, September 15, 2010

‘n Boer maak ‘n plan!

Antoinette sê
Ek het skaars my vorige blog gepos met die mooiste fotos van Cannes toe gebeur die gevreesde!!

Jacques en Dawie verfilm MaritaKook met twee Sony HD (hoe definisie) kameras wat met kaarte werk in plaas van bande soos ‘n paar jaar gelede. Die kwaliteit van die materiaal is ongelooflik en dit lyk letterlik of jy aan die kos kan vat, maar die toerusting is gesofistikeerd en effe pieperig as jy dit vergelyk met die kameras van so paar jaar gelede.

Omdat ons nie meer bande gebruik nie, word die kameras se kaarte na elke dag se verfilming oorgedra via ‘n rekenaar na ‘n hardeskyf waarvandaan die redigeerder uiteindelik die programme gaan redigeer.

Maandagaand terwyl Jacques besig was om die materiaal oor te dra gaan sy splinternuwe “top of the range” Apple Mac rekenaar skielik dood en ‘woeps’ niks verder nie! ‘n Vraagteken verskyn op die skerm wat Dawie navors op Google en uitvind dat die net een ding beteken - die hardeskyf het uitgebrand!! Jacques is effens onsteld, maar reken dat ons in Cannes – die film hoofstad van die wêreld – is, en daar moet iewers ‘n Apple winkel in die omtrek wees.

Dinsdagoggend moet nog een kaart oorgedra word en my rekenaar word ingespan. Die hardeskyf met al die vorige dag se materiaal word aangeskakel en skielik is Jacques so wit soos ‘n laken. Die hardeskyf maak snaakse klik geluide en wil nie registreer nie, wat kan beteken dat ons al die materiaal verloor het.

Ek wil die berge agter Cannes uitklim! Marike reken dis nie so erg nie terwyl sy haar naels kou en vir Jacques ‘n ‘half jack’ brandewyn aanbied! Dawie sit doodstil in die hoek en Google oplossings wat nie daar is nie! Ons begin dadelik planne maak hoe om die situasie te red toe Jacques ons stop en sê my rekenaar erken die hardeskyf en hy kan die leers met materiaal sien, maar ons moet dadelik ‘n ander hardeksyf gaan koop voordat ons verder skiet.

Gelukkig is David Malan ons gasheer vlot in Frans en weet waar jy alles in Cannes kan kry. ‘n Uur later het ons ‘n nuwe hardeskyf, al die materiaal word weereens ‘ge back-up’ net om seker te maak en ons kan verder skiet.

Ons vind ook uit dat die Apple winkel in Cannes nie rekenaars reg maak nie maar wel die een in Nice, so 20 minute se ry verder. Teen laatmiddag is al ons probleme iets van die verlede en ons takseer ons gasheer en –vrou op ‘n heerlike aandete om dankie te sê dat hulle ons deur die krisesse gehelp het!



'n Baie gelukkige Jacques!
'n Bekommmenrde Jacques

No comments:

Post a Comment