Thursday, September 30, 2010

Franse verstaan die kuns van die lewe

Marike sê
Daar word vertel die Franse glo hulle is die stylvolste nasie in die hele wêreld met die beste lewensstyl van almal. Dat niemand die lewe behaag soos hulle nie. Na ‘n maand in Frankryk, vind ek nie veel om dit te betwis nie.

Ons reise met die filmskiet is al amper 4000 km vêr. Ons het begin in die suide van Frankryk, aan die Middelandse see, toe tot amper in die middel van die land by Aurillac en toe weer na die Atlantiese oseaan en ons eindig aan die hange van die Pyrenees-berge. Ek is oortuig; die Franse verstaan die kuns van  lewe.

Ons was twee dae op vakansie. Marita moes huis-toe en ons het besluit om Biarritz te besoek. ‘n Pragtige kusdorpie waar Prins Edward VIII, Hertog van Windsor, en voormalige Koning van Engeland en Wallis Simpson gereeld gekuier het. Vandaar is ons na St Sebastian in Spanje. Sommer net vir die dag oorgery vir inkopies. Die verskil tussen Frankryk en Spanje was opmerklik. Skielik is daar inwoners met denimbroeke en tekkies, kitskos en wegneemetes, mense in die straat, haastig iewers heen, selfoon aan die oor, koppie plastiekkoffie in die ander hand. Jongmense wat op straathoeke uithang en uit plastiekomhulsels iets te ete afsluk.

Natuurlik is Spanje ‘n fantastiese, vooruitstrewende, gekultifeerde land. Net soos die meeste ander lande van die wêreld. Maar dit is net nie heeltemal soos Frankryk nie.

Ons was vandag by twee boere in die omgewing van Pau aan die voete van die Pyrenees-berge. Een ‘n vroutjie en haar familie wat boer asof tyd nog altyd stilstaan. Vooruitstrewende boere. Doening. Duiwehokke in die dak van die huis, byekorwe in die buitemure, kaalnekhoenders, eende, ganse, makoue en koeie, neutbome en hase sonder name vir die pot bedoel.

Daarna doen ons aan by ‘n man wat as jong seun ‘n skaapwagter was. Vandag  verouder hy kaas in ‘n ‘saloir’ waar 10,000 skaapmelkkase geberg word. Die kase is groot en rond en verskil in smaak  afhangende van wat die skape eet. Boere van die omgewing bring hulle klaargemaakte kase soontoe. Hy verouder dit volgens EU standaarde. As die kaas ryp is kom haal die boere dit weer om  te verkoop. Vir sy moeite hou die formareur 3 uit 10 kase.

Dis ‘n wonderlike land die. Klink my die enigste klagte wat ons gasheer en –vrou, Simon en Isebelle Browne, het, is dat die lappies mielies, geplant in die klowe en dale tussen die hoë bome van die natuurlike bos, vir veevoer bedoel is. Die Franse kan nie groenmielies aan die stronk eet nie. Hulle weier botweg om met die hand te eet. Geen mark wil dus groenmielies aanvaar nie

Ek weet darem nie of ek vir die lewe kans sien sonder my pa se groenmielies na die somer nie!

France through David's camera lense...

David says

Amphitheater



France - Outback

Boussac


Garden mos....

Old Town



Mooooeeeee!!


Nimes




Another old town.


Notre Dame - Bordeaux

Thing

Palais de Justice
Sunset in Biarritz

More sunset
Spain beach
Reflection
Pau Church

Yet another sunset in France

Van Rose en Rugby

 Antoinette sê
Van Boussac reis ons na Aurillac vir twee dae waar ons by gaskok Marcia Gerber kook. Marcia en haar man Stefan is in Frankryk oor rugby! Heelwat Suid Afrikaners speel klub-rugby in Frankryk en die span van Aurillac het nie minder as sewe Suid Afrikaners nie.

Marcia, Stefan en twee-jaar oue Wian bly so ‘n paar kilometers uit die dorp in ‘n pragtige moderne kliphuis op ‘n kleinhoewe. Hulle het 4 skape en ‘n oulike Jack Russel hondtjie. Buurman Rassie van Nelspruit, speel ook rugby en is byderhand om te help tafeldek vir die lekker middagete.

(Op die foto staan ek tussen Stefan en Rassie – kon nie die kans laat verby gaan nie!)

Ons kook twee tipies Franse geregte, koolfrikadelle – wat ons ook in Suid Afrika ken - in ‘n heerlike tamatiesous, ‘n hoofgereg van forel met chantalkaas uit die streek en oondgeroosterde groente. Heerlik.

Die forel kom van ‘n forelplaas net buite Aurillac in die berge. Dit is yskoud toe ons daar aankom met so’n sagte motreentjie, maar die forel-man is reg vir ons. Marcia en Marita help vang en kort voor lank het ons ‘n paar lekker forelle in ‘n netjiese wit houer. Varser as dit kry jy nie sommer nie!

Na die kook-sessie word ons saamgenooi na’n wedstryd tussen Aurillac se o/19's en 'n buurdorp en oral hoor jy Afrikaans!! Aurillac se span wen die wedstryd!!

Baie dankie Marcia, Stefan, Rassie en al die Suid-Afrikaners in Aurillac wat ons so welkom laat voel het.

Pragtige Aurillac

Marita vertaal die forel-man.

Dis lekker koud in Aurillac.
Marcia en haar twee manne,
Stefan en Wian

Marita en Marcia in die kombuis.
Marcia se heerlike forel en kaasgereg
Marcia en buurman, Rassie.


Ons neem Aurillac se O-19's af.
 

Ons manne saam met Marcia se manne!

 

Tuesday, September 28, 2010

Nog 'n bietjie sluimer...

Marita sê
O wat is die slaap 'n wondersoete ding... Of so iets, as ek reg onthou.

Dis in elk geval die gedagte waarmee ek gisteroggend in my eie bed in my eie slaapkamer wakker geword het, ná amper 10 dae van reis en kook en kuier in ander mense se kombuise en huise. My liewe man en dogter het my die naweek in Aurillac by Marcia Gerber se lieflike kliphuis kom oplaai sodat ek twee dae tuis kan 'rus' (lees huis skoonmaak, wasgoed was en dringende skryfwerk afhandel) voordat ek Woensdagoggend douvoordag die trein vang na Pau, waar ons die laaste 2 episodes van ons kookreeks in die streek van die Baske gaan verfilm.

Ná soveel oggende van opspring in die donker en oor onbekende meubels struikel terwyl ek die sigbare tekens van uitputting op my gesig met grimering probeer wegtoor (voordat ons in die pad val vir ure van ry of ure voor die kameras staan en kook), was dit 'n onbeskryflike luukse om net op my sy te draai en my oë te sluit vir nog 'n bietjie sluimer. G'n kameras vandag nie, g'n grimering, g'n haardroeërs, ag, hoe salig. Ek het heeldag in my oudste en vaalste sweetpakbbroek deur die huis geslof.

En toe ons Sondagaand ná meer as 6 uur op die pad by die huis kom, was ons so moeg en so honger en so koud - die weer het gedraai en die winter is aan die kom! - dat ons 'n pakkie kitssop oopgeskeur het en dit saam met brood en kaas verorber het. Seker 'n doodsonde ná al die formidabele maaltye van die afgelope 2 weke, maar raai wat - ek het glad nie skuldig gevoel nie en die poeiersop het voortreflik gesmaak. Ek moet darem byvoeg dat die brood 'n oondvars baguette was en die kaas 'n heerlike homp Cantal wat Marcia vir my in ruil vir een van my romans gegee het. Dis nou nadat ons heelwat van daardie einste Cantal (die ryk en romerige koeimelkkaas wat die streek rondom Aurillac se naam wêreldberoemd gemaak het) gerasper het oor die forel wat ons die vorige dag op 'n forelplaas gaan vang het.

Ons het die vars forel saam met gebraaide eiervrug-en-sampioene met balsemasyn en roosmaryn geëet, en nog 'n befaamde streeksdis as voorgereg geniet: varkvleisballetjies toegedraai in sagte groen koolblare en gerangskik op 'n tamatie-en-uiesmoor. Te mooi vir woorde, die groen en die rooi so saam; nog 'n smaaklike ete in die maag, nog 'n suksesvolle kooksessie in die blik.

Enigste struikelblok was die weer. (Ek het mos voorspel dat dit een of ander tyd 'n probleem gaan word!) Marcia en regisseur Marike was albei vasbeslote dat ons buite moes eet om die pragtige uitsig van die stoep af te benut, maar die temperatuur het met 'n volle 20 grade geval sedert ons 2 weke gelede in Cannes voor die kameras staan en sweet het. Dáár was dit rondom 30° C - en Sondag in Aurillac rondom 10° C. Nou nie eintlik geskik vir al fresco etes nie, nè. Gelukkig is Marcia se man Stephan en buurman Rassie twee stewige Afrikaanse voorspelers in 'n plaaslike Franse rugbyspan en sulke ouens skrik nie sommer vir koue pampoen óf koue weer nie. Ons ander gaste moes dus maar ons monde toe hou sodat ons tande nie hoorbaar op kamera klap nie. En die oomblik toe die kamera ophou draai, het selfs Stephan en Rassie hulle borde gegryp om binne in die huis verder te eet.

Maar teen dié tyd het ek ook al geleer dat Jacques en Dawie kan toor met daardie kameras van hulle. As hierdie elfde episode volgende jaar uitgesaai word, sal dit heel moontlik lyk asof ons rustig in die son sit en ginnegaap het...

Sunday, September 26, 2010

Boussac oftewel Versailles!

Antoinette sê
Ons neem swaar afskeid van Lynnboerin en vat die pad na Anet Pienaar-Vosloo, ons volgende gaskok.
Ons ry deur pragtige landskappe en ek verstaan hoekom so baie Suid- Afrikaners Frankryk hulle tuiste maak. Van die landskappe herhinner aan die Kaap, party aan Natal en selfs Mpumalanga en die Weskus is hier en daar te siene. Frankryk is ‘n ongelooflik mooi land en nêrens sien jy rommel rondlê nie. Alles is skoon en netjies en ek wonder hoe die land met 15 miljoen meer mense as Suid Afrika dit regkry! Die Franse is vriendelik en behulpsaam, en al kan hulle nie altyd Engels verstaan of praat nie, kom ons oral reg.
Anet se vakansiehuis is in Boussac, ‘n klein dorpie in die Auvergne. La Maison des Roses of Huis van Rose, is ‘n pragtige gerestoreerde huis met die mooiste roostuin. Ons slaap onder properse linne en bad met heerlike badseep en ek voel soos ‘n prinses.
Kunstenaar Louis Jansen van Vuuren en begaafde kok Hardy Olivier is Anet se bure en nooi ons vir aandete. Ons word heerlik bederf met warm pasteie en koue wyn en lekker geselskap.
Vroeg Vrydag-oggend begin ons kook aan Anet se spyskaart – Koek en Champagne. Roos en vrugte mousse, versierde madeleintjies, vrugte en bessie tert, en my gunsteling, macaroons. Louis dek ‘n guitige tafel en ons hou teeparty!
Na die verfilming maak Louis vir ons lekker lamsboud uit Feestelike Frankryk, die pragtige kookboek wat Anet, Louis en Hardy geskryf het. Anet bring maskers uit en ons moee lywe kry lewe!! Ons hou partytjie tot laataand en speel Koning Lodewyk, Marie Antoinette en Napoleon!!
Dankie Anet, Louis en Hardy vir ‘n onvergeetlike kuier. Julle weet van!!


Pragtige Franse landskap
Ons skiet in Boussac
Boussac se kasteel

Anet se pragtige roostuin.
Anet en Marita verken Boussac.

Marike & Anet bewonder
die heerlike gebak.
Vrugte & bessietert & versierde Madeleitjies

Anet se rosige tuinstewels.

Pragtige teetafel.
Pragtige gedekte tafel en lieflike gasvrou!

Louis & Anet of is dit Lodewyk
en Marie Antoinette
  
Jacques en Dawie of is dit Koning
Henry en die Franse Ambassadeur

Marike maak 'n pragtige Anne Boleyn

Marita is 'n wulpse Marie Antoinette
Pragtige kookboek deur Anet, Louis and Hardy

Babbelbek se blues

Lynnboerin sê
Dit is nou al twee dae dat Magic Marita en die ATeam hier weg is en ek moet sê, na al die Afrikaans pratery is my tong nou geknoop in my aangenome froggie taal. Gister heeltyd gesukkel!

En weet julle, dit het gevoel of ek jare lange vriende in die huis gehad het – en nou is daar so 'n leegtetjie! Ons het heerlik gekuier, hulle help en vat raak en maak dit wat ek gedink het 'n onbegonne taak sou wees, maklik soos soetkoek!

En nou wag ek vir my Amerikanerw en Pam die Gypsy Chef met wie ons vir die volgende week 'n Franse kos en kultuur kursus doen. Wat my laat opflikker is dat Susan van Kanada saam met my op skool was in George, so ek sal nog vir so 'n paar dae my Afrikaans kan oefen so tussendeur die rondwysery in ons wonderlike omgewing.

Ratatouille die III het toe nooit sy verskyning gemaak nie – die het seker stagefright gekry – nie uit dieselfde kleed as groot oupa gesny nie!

En met die rëen wat neerval in vlae probeer ek met die paar sinne my blues wegskryf!

Vir die gaskokke wat die spannetjie nog moet besoek, wees gerusgesteld, hulle is ABFAB!!!


Friday, September 24, 2010

Rose in die reën

Marita sê
Vir vandag se kooksessie het ek my cashmere-truitjie en my stringetjie pêrels uitgekrap, want ons kuier by deftige mense. Anet Vosloo organiseer vir ons 'n Frans-Afrikaanse weergawe van die Engelse 'high tea' - genoeg soetgebak om 'n suikertand soos ek heeldag in die sewende hemel te hou -  met die onontbeerlike hulp van haar glamorous buurmanne Louis en Hardy.

Hierdie twee se imponerende château-tuiste en oorweldigende gasvryheid het al vele Suid-Afrikaners na die dorpie Boussac en omstreke gelok. Gisteraand het ons TV-span weer van daardie befaamde gasvryheid geproe. Dit het enorme wilskrag gekos om op te hou eet en drink (preietert, aartappeltert, pienk sjampanje, pienk wyn, armagnac, say no more) en vroeg(erig) te gaan slaap sodat ons vars kan wees vir vandag se verfilming.

Anet noem haar huis 'die rooshuis' en ons tema is rose - in die tuin, op die teekoppies, teen die mure van die kombuis, in vase oral in die huis, selfs op Anet se uitrusting! Ek wil graag saamspeel en ook my rooshempie aantrek, maar die weer wil nie saamspeel nie. Ja, net toe ek begin dink al my wroegings oor die wispelturige Franse weer was pure verniet... toe haal die reën ons in. En nie sommer 'n ligte buitjie nie, hoor. Dit het laas nag behoorlik gesous hier in Boussac. Toe ek vanoggend deur Louis en Hardy se tuin tot by Anet se kombuis moes stap, moes ek deur modder ploeg en oor waterplasse spring.

Gelukkig is Anet se kombuis (pas 'oorgedoen' met sjiek grys-en-swart muurpapier waarop prentjies van Parys pryk) heeltemal mooi genoeg vir binnenshuise verfilming. En noudat ons halfpad deur die dag se skietery is, wil-wil dit lyk of die reën minder word en die son begin deurbreek. Ons sal seker nie ons koekpartytjie in die roostuin kan verfilm nie, maar Louis het belowe hy gaan vir ons 'n uitspattige tafel in die huis dek. Over the top, het ons vir hom gesê - en Louis se oë het dadelik begin glinster oor hierdie gawe opdrag. My oë glinster ook sommer by voorbaat want met 'n bekende skilder in die rol van tafelversierder gaan ons beslis die sjoe-faktor hê.  Over the top!

Thursday, September 23, 2010

Mama Afrika van Frankryk!

Antoinette sê
Ons is op nommer 9!! Kan julle dit glo….en nogsteeds sien ons elke dag nuwe dinge en ontmoet fantastiese mense!! Hierdie show KOOK!!

Gistermiddag arriveer ons in Vichy – die bekende ‘water’ stad in die middel van Frankryk. Alles draai om die baddens en die medisinale water wat deur dokters voorgeskryf word vir allerlei kwale. Vichy is ‘n pragtige stad wat heel anders voel en lyk as enige dorp of stad wat ons tot nou besoek het. Dit herhinner jou aan Bath in Engeland. Sjiek boetieks – maar nie so in jou gesig soos Cannes nie – is oral diskreet weggesteek. Die operahuis is iets om te aanskou!! Jy kan jou net voorstel hoe die mense op die promenade gepronk en preik het in vervloee dae.

Ons ontmoet gaskok Lynn Chaulieu by restaurant Les Caudalies vir Vichyssoise – ‘n sop van die stad gemaak van preie en aartappels maar met die sjef se eie kinkel – salm op ‘n brood stokkie! Baie baie lekker!! Lynn of te wel Lynnboerin soos Marita haar gedoop het, en die Mama Afrika van Suid Afrikaners wat in Frankryk woon en werk, is ‘n bol energie. Trots vertel sy ons van haar aangenome stad en wys ons rond.

Voordat ons die mosterdmaker op die pragtige dorpie Charroux ontmoet, stop ons gou by Lynn en haar man Olivier se  gastehuis buite Vichy in Espenasse-Vozelle! Ons verwonder ons aan die pragtige  huis met ‘n groot onderdak verhitte swembad wat hulle self reggemaak het!

Lynn is ‘n uitmuntende kok en gasvrou. Haar spyskaart vir ons kooksessie laat ons monde water. Mosterdkoekies, kerrie visbobotie en gestopte kwarteltjies met bosbessies.  Haar pragtige groot kombuis is Jacques en Dawie se droom en ek en Marike kan nie wag om die kospotte uit te lek nie!!

Besoek asseblief Lynn se webwerf, en as jy jouself ooit in die omgewing bevind, boek in en kom eet! Jy sal nie spyt wees nie.

Webwerf: www.jardins-des-thevenets.com
Lynn se blog: autourdelatablehote.blogspot.com

Astoria Hotel in Vichy
Die mosterdwinkel
Lekker mosterd
Die helende water-sentrum in Vichy
Aux Jardins des Thevenets
Bekende Vichy lekkertjies.
Die pragtige klein dorpie Charroux
Die span aan die kook!
Kwarteltjies met bosbessies
Lynn en Olivier se gaste kuier
lekker saam met Marita
Lynn en Olivier Chaulieu
Pragtig Afrika tafel in swart en wit
Marita & Lynn Kook
Vishyssoise with a twist!
Waar moet ek begin?
Restaurant Les Caudalies
Die span aan die kook!