Wednesday, September 8, 2010

D-Dag minus 1

Marita sê
Laat ons begin met die goeie nuus. Die wind het opgehou waai en gaan blykbaar nie binne die volgende dag of drie weer te wild waai nie. Groot sug van verligting.

Maar (daar's altyd 'n maar, nè) die afgelope twee nagte is ons omgewing geteister deur woeste storms van donderweer en blits en reën, so erg dat riviere gedreig het om te oorstroom en meer as 'n duisend toeriste in die middel van die nag hulle tente en woonwaens in kampeerterreine moes ontruim. Maar (nog 'n maar, dié keer 'n positiewe een) ons TV-span hoef darem nie te kampeer nie. Só beperk is KykNet se begroting darem nie.
En terwyl ek hier sit en skryf, met die wete dat die span reeds in Frankryk geland het, het die son pas deur die wolke gebreek en die landskap lyk so kraakvars soos skoongewaste lakens aan 'n lyn. En volgens die weervoorspelling gaan die volgende week heerlik sonnig met hoogstens 'n paar wolke wees.

Intussen is alles so reg soos dit ooit sal wees vir môre se eerste kooksessie. Ek was effens besorg dat ons nie vars frambose vir Noèmie se vrugte-tiramisu en klein kersietamaties vir Daniel se souttert gaan opspoor nie, maar die frambose kon ek vanoggend op ons dorpie se piepklein weeklike markie kry en die kersietamaties by die traiteur op 'n buurdorp waar ons ook môreoggend 'n stukkie gaan verfilm. ('n Traiteur is soortgelyk aan wat ons in Suid-Afrika 'n delicatesse sal noem.) Die bakkery waar ons wou verfilm, is weliswaar gesluit vir hulle jaarlikse vakansie - maar gelukkig is 'n goeie bakkery nooit té moeilik om op die Franse platteland te vind nie.

Wie's dit wat gesê het een van die verskille tussen die Britte en die Franse is dat die Britte twee keer 'n week brood koop - en die Franse twee keer 'n dag?

Dís waaroor ons môre voor die kamera gaan praat. Oor die Belangrikheid van Brood. En ander net sulke lewensbelangrike kulinêre sake.

As ek weer skryf, sal die eerste episode in die blik wees - en my nerwe hopelik minder aan skerwe!



No comments:

Post a Comment