Monday, September 13, 2010

Kantoorwerk

Marike sê
Jacques was vandag soos ‘n kind in ‘n lekkergoedwinkel. Hy het nie geweet wat om te vat en wat om te los nie. Ons moes hom met groot moeite wegskeur na afloop van die verfilming by die mark, op die landerye, in die strate. Hy kon net nie genoeg kry van die verskeidenheid visuele moontlikhede nie - bedwelm deur die kleure, teksture, ligspelings van die Franse Riviera. Met 26,000 bote op die see, beeldskone meisies in Fasion TV uitrustings, seningrige oomies in droommotors en troeteldiere in ontwerpersuitrustings. Wie kan hom blameer?

Jacques is een van ons land se mees gerespekteerde videokameramanne. Hy het al in 52 verskillende lande gewerk en deesdae spesialiseer hy in natuurlewe in die Nasionale Krugerwildtuin.

Die wildtuin is ‘n paradys vir ‘n fotograaf - maar dit werk heelwat anders daar. Ons ry vir ure om by ‘n bepaalde olifant, buffel of trop leeus te kom. Dan loop ons dikwels vir kilometers deur bos en bosluise om nog nader te kom. Met die dier opgespoor is dit wegkruip en wag om diergedrag te verfilm.

Nie op die Franse Riveria nie. Hier kan jy enige plek stelling in neem en verseker wees van ‘n magdom van visuele moontlikhede wat smeek om afgeneem te word.

Ons moet gaan – nog ‘n dag by die kantoor wag…


Jacques & 'assistent' David Malan  
voor die Gucci boot uitstalling in Cannes.
Jacques bewonder.... en wonder  
waar hy een van die kan kry!



No comments:

Post a Comment