Wednesday, September 15, 2010

David Malan uit Cannes

David sê
Seker hoog tyd dat ek ook ‘n bydrae lewer tot hierdie treffer in wording. 

Ek het ook  nou al die voorreg gehad om die hele spannetjie te ontmoet.
Soos Annemarie sê is dit maklik om vir 'n ding in te stem as dit in die toekoms lê. Tyd het my nou ingehaal en dit is nou sulke tyd. Ek is een van daai siele wat beter resultate lewer onder druk en 'n kort spertyd. Meer pret en adrenelien! Dit dra seker by dat  my ander helfte, Stephanie, vinniger grys hare gaan ontwikkel, maar nou ja. Gelukkig is sy Frans en georganiseerd en bring ‘n balans in ons daaglikse lewe!

Ek het haar gister ingelig dat sy ook voor die kameras gaan verskyn – en skielik is daar paniek! Sy het in die laaste week gewig opgetel en weet nie wat nog alles nie! As die wa deur die drif getrek moet word sal sy piekfyn wees.

Ons woon in Cannes- die bekende film dorp/stad met alles wat daarmee gepaard gaan. Ons is gelukkig om oorkant ons slagter en kaasmaker te bly en bokant die bakker. Nog gelukkiger is dat ons 150m van die strand en 50m van Morrisons die Irish pub af woon! Om in Cannes te woon moet n mens se gestel sterk wees om al die versoekings te weerstaan. Jy moet dit wat jy sien in die regte laaitjie kan bêre. Oral waar jy gaan sien jy iets wat jy baie graag sal wil ry, eet of besit!

Dekadensie, uitspattige weelde en outydse sjarme vryf skouers hier. Op die oog af is dit baie bling, maar daar is soveel lae omtrent Cannes dat dit moeilik is om te beskryf. Hang net af met watter oë kyk jy na die plek.

Ek is ‘n ‘Frenchified’  boertjie wat hier in Cannes geland het as ‘n butler en eiendomme bestuurder  vir die adelikes en stinkrykes van hierdie wêreld.  Soos ‘n ander slimkop hier gesê het werk maak werk en nou konsulteer ons uitsluitlik vir Suid-Afrikaners wat wil eiendom besit in Frankryk. Ons vind die geskikste eiendom wat by hul behoeftes en begroting pas en fasiliteer die hele koopproses en bestuur dit ook namens eienaars in hul afwesigheid.  ‘n Baie meer bereikbare droom as wat meeste Suid Afrikaners dink. Die visa mense van die Franse ambassade help nou ook nie juis om dit makliker te maak nie!

Ons is nou op pad om die strate te slaan met die spannetjie. Hoop maar dit loop goed af.

No comments:

Post a Comment