Tuesday, September 28, 2010

Nog 'n bietjie sluimer...

Marita sê
O wat is die slaap 'n wondersoete ding... Of so iets, as ek reg onthou.

Dis in elk geval die gedagte waarmee ek gisteroggend in my eie bed in my eie slaapkamer wakker geword het, ná amper 10 dae van reis en kook en kuier in ander mense se kombuise en huise. My liewe man en dogter het my die naweek in Aurillac by Marcia Gerber se lieflike kliphuis kom oplaai sodat ek twee dae tuis kan 'rus' (lees huis skoonmaak, wasgoed was en dringende skryfwerk afhandel) voordat ek Woensdagoggend douvoordag die trein vang na Pau, waar ons die laaste 2 episodes van ons kookreeks in die streek van die Baske gaan verfilm.

Ná soveel oggende van opspring in die donker en oor onbekende meubels struikel terwyl ek die sigbare tekens van uitputting op my gesig met grimering probeer wegtoor (voordat ons in die pad val vir ure van ry of ure voor die kameras staan en kook), was dit 'n onbeskryflike luukse om net op my sy te draai en my oë te sluit vir nog 'n bietjie sluimer. G'n kameras vandag nie, g'n grimering, g'n haardroeërs, ag, hoe salig. Ek het heeldag in my oudste en vaalste sweetpakbbroek deur die huis geslof.

En toe ons Sondagaand ná meer as 6 uur op die pad by die huis kom, was ons so moeg en so honger en so koud - die weer het gedraai en die winter is aan die kom! - dat ons 'n pakkie kitssop oopgeskeur het en dit saam met brood en kaas verorber het. Seker 'n doodsonde ná al die formidabele maaltye van die afgelope 2 weke, maar raai wat - ek het glad nie skuldig gevoel nie en die poeiersop het voortreflik gesmaak. Ek moet darem byvoeg dat die brood 'n oondvars baguette was en die kaas 'n heerlike homp Cantal wat Marcia vir my in ruil vir een van my romans gegee het. Dis nou nadat ons heelwat van daardie einste Cantal (die ryk en romerige koeimelkkaas wat die streek rondom Aurillac se naam wêreldberoemd gemaak het) gerasper het oor die forel wat ons die vorige dag op 'n forelplaas gaan vang het.

Ons het die vars forel saam met gebraaide eiervrug-en-sampioene met balsemasyn en roosmaryn geëet, en nog 'n befaamde streeksdis as voorgereg geniet: varkvleisballetjies toegedraai in sagte groen koolblare en gerangskik op 'n tamatie-en-uiesmoor. Te mooi vir woorde, die groen en die rooi so saam; nog 'n smaaklike ete in die maag, nog 'n suksesvolle kooksessie in die blik.

Enigste struikelblok was die weer. (Ek het mos voorspel dat dit een of ander tyd 'n probleem gaan word!) Marcia en regisseur Marike was albei vasbeslote dat ons buite moes eet om die pragtige uitsig van die stoep af te benut, maar die temperatuur het met 'n volle 20 grade geval sedert ons 2 weke gelede in Cannes voor die kameras staan en sweet het. Dáár was dit rondom 30° C - en Sondag in Aurillac rondom 10° C. Nou nie eintlik geskik vir al fresco etes nie, nè. Gelukkig is Marcia se man Stephan en buurman Rassie twee stewige Afrikaanse voorspelers in 'n plaaslike Franse rugbyspan en sulke ouens skrik nie sommer vir koue pampoen óf koue weer nie. Ons ander gaste moes dus maar ons monde toe hou sodat ons tande nie hoorbaar op kamera klap nie. En die oomblik toe die kamera ophou draai, het selfs Stephan en Rassie hulle borde gegryp om binne in die huis verder te eet.

Maar teen dié tyd het ek ook al geleer dat Jacques en Dawie kan toor met daardie kameras van hulle. As hierdie elfde episode volgende jaar uitgesaai word, sal dit heel moontlik lyk asof ons rustig in die son sit en ginnegaap het...

No comments:

Post a Comment