Wednesday, September 1, 2010

Gaskok Nadine Visagie uit Tarbes

Nadine sê
Spring Cleaning – slegs een van hierdie twee woorde maak my opgewonde maar terselfdertyd besef ek dat ek nou beide nodig het. Terwyl al die Suid Afrikaners vandag Lentedag vier gaan ek begin om die huis silwerskoon te kry voor die aankoms van Marita en die kykNET-span aan die einde van die maand. Ek gaan ook die laaste lang, warm dae omhels met waardering omdat ek besef dat die koue binnekort oppad is Frankryk toe. 

So, hoe motiveer ek myself as bederfde Suid Afrikaner om hierdie skrikwekkende of sal ek sê (sug)wekkende taak alleen aan te durf? Miskien moet ek die raad van 'n Franse uitdrukking volg: voir la vie en rose (sien die lewe as rooskleurig) maar ai dit is darem moeilik sonder Rose, ons voormalige huishulp in Suid Afrika. Vandat ons in Frankryk woon besef ek weereens hoe wonderlik sy gewerk het, sy het altyd die huis in rekordtyd skoon gekry en boonop was sy altyd vriendelik gewees terwyl sy dit gedoen het (iets waarmee ek sukkel.) Rose ek mis jou!

Ek mis ook dikwels familie en vriende hier in die vreemde maar snaaks genoeg voel dit vir my asof familie kom kuier, al het ek nog nooit een van die mense ontmoet nie! Suid Afrikaners is bekend vir hul gasvryheid en dit is 10 keer meer waar wanneer hulle landsburgers in die buiteland verwelkom. Dit gaan SO lekker wees om vlot Afrikaans te praat in 'n land waar ek gereeld vashaak en verkeerd verstaan word. Ek wag met ope arms vir Marita en die kykNET-span en ek sien uit daarna om ons resepte en Franse leefwyse met kykNET kykers sowel as met familie en vriende te deel. On y va!


No comments:

Post a Comment