Friday, September 24, 2010

Rose in die reën

Marita sê
Vir vandag se kooksessie het ek my cashmere-truitjie en my stringetjie pêrels uitgekrap, want ons kuier by deftige mense. Anet Vosloo organiseer vir ons 'n Frans-Afrikaanse weergawe van die Engelse 'high tea' - genoeg soetgebak om 'n suikertand soos ek heeldag in die sewende hemel te hou -  met die onontbeerlike hulp van haar glamorous buurmanne Louis en Hardy.

Hierdie twee se imponerende château-tuiste en oorweldigende gasvryheid het al vele Suid-Afrikaners na die dorpie Boussac en omstreke gelok. Gisteraand het ons TV-span weer van daardie befaamde gasvryheid geproe. Dit het enorme wilskrag gekos om op te hou eet en drink (preietert, aartappeltert, pienk sjampanje, pienk wyn, armagnac, say no more) en vroeg(erig) te gaan slaap sodat ons vars kan wees vir vandag se verfilming.

Anet noem haar huis 'die rooshuis' en ons tema is rose - in die tuin, op die teekoppies, teen die mure van die kombuis, in vase oral in die huis, selfs op Anet se uitrusting! Ek wil graag saamspeel en ook my rooshempie aantrek, maar die weer wil nie saamspeel nie. Ja, net toe ek begin dink al my wroegings oor die wispelturige Franse weer was pure verniet... toe haal die reën ons in. En nie sommer 'n ligte buitjie nie, hoor. Dit het laas nag behoorlik gesous hier in Boussac. Toe ek vanoggend deur Louis en Hardy se tuin tot by Anet se kombuis moes stap, moes ek deur modder ploeg en oor waterplasse spring.

Gelukkig is Anet se kombuis (pas 'oorgedoen' met sjiek grys-en-swart muurpapier waarop prentjies van Parys pryk) heeltemal mooi genoeg vir binnenshuise verfilming. En noudat ons halfpad deur die dag se skietery is, wil-wil dit lyk of die reën minder word en die son begin deurbreek. Ons sal seker nie ons koekpartytjie in die roostuin kan verfilm nie, maar Louis het belowe hy gaan vir ons 'n uitspattige tafel in die huis dek. Over the top, het ons vir hom gesê - en Louis se oë het dadelik begin glinster oor hierdie gawe opdrag. My oë glinster ook sommer by voorbaat want met 'n bekende skilder in die rol van tafelversierder gaan ons beslis die sjoe-faktor hê.  Over the top!

No comments:

Post a Comment