Monday, September 6, 2010

Oefen my geregte, nooi vriende oor en vra eerlike opinies… probeer weer, nooi vriende oor en vra eerlike opinies

Marcia sê
Ek gaan eerlik wees; ek kan nie kook nie. Regtig nie. Geeneen van my disse is enigstens iets om oor huis toe te skryf nie. Die kere wat ek al iets smaaklik voorberei het was dit meestal per ongeluk en kon ek dit daarna nooit weer dieselfde laat proe nie. Selfs al probeer ek iets uit die resepteboek “Anyone can cook” se my man nes die muis op Ratatouille na afloop van die maal “…but that doesn’t mean that anyone should.” Nou wat maak ek dan op die program MaritaKook? Wel, dan onthou ek altyd die storie wat my Ma vertel van die aktrise wat tydens die oudisies vir ‘n droomrol gevra is of sy kan swem. Alhoewel sy geweet het sy kan nie eintlik swem nie dink sy dat sy heeltemal te lank gewag het vir ‘n kans soos hierdie een en dat sy dit nou nie vir haarself in die wiele wil ry nie. Al moet hul dan ook maar later ‘n dubbelganger vir haar kry antwoord sy toe “Ja, ek is ‘n Olimpiese swemmer!” en in die tussentyd gaan sy leer swem asof haar lewe daarvan afhang! Ook so dink ek aan iets wat my Pa altyd se van daar is nie so woord soos “te” nie. Mens se nie dis “te” veel werk of ek is “te” moeg nie. Daar is net twee “te’s” in die wereld en dit is ek gaan “te” perd na ‘n meisie toe en kom “te”vrede terug.

Nou ja, met sulke gene behoort ek mos oornag in die beste opkomende kok in Frankryk te kan verander!

Soos wat al die ander deelnemers nou huis skoonmaak, tuin regkry, gewig verloor, skoonheidsbehandelig kry en wie-weet-watter gedaanteverwisselings ondergaan spandeer ek ure voor die rekenaar om myself ‘n crash course in Franse kookkuns te gee. Ek lees oor die belangrikheid en veelvuldigheid van knoffel, besoek webtuistes van bekende Franse kokke, kyk kosmaak video’s op You Tube en stuur e-posse aan almal wat ek ken van wie af ek iets kan leer in die kombuis. Ek oefen my geregte, nooi vriende oor en vra eerlike opinies… probeer weer, nooi vriende oor en vra eerlike opinies en stadig maar seker begin ek gereed voel, of nee, opgewonde voel, selfs uitsien na MaritaKook!

1 comment:

  1. Ek is ook opgewonde om die program te sien... Glo darem jy sal n ou ietsie fraans by mekaar kan slaan... nou waneer doen hul kook kuns in dubai ha ha... dis nou vir jou n moelike taak. Hierdie mense maak allerande snaakse maar lekker dinge..
    ek hou duim vas alles loop vlot aan julle kant.. ek hoop ons kan dit opn manier sien hier in dubai!! liefde xxx

    ReplyDelete