Friday, September 10, 2010

Nog 'n week dan is dit ons beurt...

 Annemarié sê
Toe Marita ons destyds gevra het om aan die KykNet-kookprogram deel te neem het dit nog so ver in die toekoms gelê dat dit maklik was om ja te sê. Nou het die tyd ons ingehaal en ons het nog nie eens kans gehad om oor die kook-affêre te dink nie. Waarskynlik beter so, want anders was my senuwees al gedaan. Gelukkig was Jaap nog nooit bang vir die limelight of die TV-kameras nie.

Ongelooflik, maar oor bietjie meer as ’n week staan die TV-span op ons voorstoep. Wel, ‘ons voorstoep’ is nou seker nie heeltemal die regte manier om oor daai stoep te praat nie, want hy behoort glad nie aan ons nie. Maar dit voel of hy aan ons behoort want ek, my liewe man Jaap en my seunskind Stephan (12) spandeer al die afgelope 5 jaar gereeld ons somervakansies daar. Soms alleen, soms met familie, soms met vriende. Ons het dit vrek gelukkig getref, want ‘Les Cascatelles’, ’n ou kliphuis teenaan ‘n heuwelhang buite die dorpie Vals-les-Bains, nie ver van Aubenas, behoort nie aan ons nie, maar aan ons goeie vriende, Peter de Leeuw en Marielle Krekels. Jaap en Peter is al vir meer as 40 jaar vriende – hulle was saam op hoërskool in Middelburg, Zeeland en intussentyd het albei in die akademie beland – Jaap in die Departement Moderne Nederlandse Tale aan die Universiteit van Leiden en Peter in die afdeling Interne Geneeskunde aan die Universiteit van Maastricht. Ook maar gelukkig vir ons dat Peter en Marielle albei ontsettende besige interniste is en min tyd het vir vakansie hou, want daarom mag ons, wie se werk hoofsaaklik uit lees en skryf bestaan, gereeld daar gaan afpak vir rus én werk – ons vakansies is gewoonlik ’n kombinasie van albei.

Oor Vals-les-Bains sal ek julle volgende keer bietjie meer vertel, want dis ’n besonderse dorp in die Ardeche-streek van Frankryk.

No comments:

Post a Comment