Tuesday, September 7, 2010

Gucci Toerusting

Marike sê
Ons is oppad!
Ons bagasie het plakkers op. ‘n Ieder en ‘n elk. ‘n Ronde een wat aankondig ‘MARITA KOOK – Frankryk’, ‘n driehoekige een wat waarsku ‘Breekbaar’, ‘n reghoekige een wat dit duidelik stel die toerusting is die eiendom van ‘SANHU’ en ‘n vierkantige een wat al die stukke netjies nommer van ‘1’ tot ‘8’
In die 25 jaar wat ek met kameraspanne reis, is dit die eerste keer wat ek so iets sien.

Gewoonlik is dit groot, lelike, (dikwels geduikte) swaar metaal bokse waarin toerusting inmekaargevleg lê om so min moontlik spasie in beslag te neem. Nie Jacques nie, sy toerusting is knus verpak in die duidelik gemerkte houers. Elkeen nommerpas in spons, uitgesny in die presiese vorm van die bepaalde stuk kameratoerusting.

Gucci toerusting...
Op die lughawe oorhandig Antoinette vir ons elkeen ‘n netjiese  rooi leêr. Marita lag op die voorblad in ‘n veelkleurige plakker. Binne-in is die reisskedule wat  hulle twee uitgewerk het en die looporde van elke episode wat ek uitgewerk het.

Die grote "Airbus A380"
Al die vereiste papierwerk om kameratoerusting van bykans R1miljoen uit die land te neem, is eksie perfeksie. Ons seil deur  die verdere kontroles tot binne-in die ongelooflike groot dubbeldoor-vliegtuig van Air France, die Airbus A380 met nie minder nie as 500 sitplekke.
Frankryk – hier kom ons!

No comments:

Post a Comment