Friday, September 10, 2010

Knap gedaan, Marita!

Marike sê
‘n Berg is van my skouers af! Die eerste program in die reeks is verfilm en dit het baie goed verloop. Ons het lekker as ‘n span saamgewerk, Provence is prentjiemooi en fotogenies as ‘n agtergrond, die plattelandse Franse is ongelooflik gaaf en akkomoderend en Marita, ‘n ware ster!

Natuurlik is Marita uiters gewild as ‘n skrywer op vele terreine (Haar boek ‘Dis koue kos Skat’ verkoop soos soetkoek, haar jeugverhaal ‘Hanna Hoekom’ is suksesvol verfilm, ‘Vergenoeg’ is op die planke) maar sy was nog nooit ‘n televisieaanbieder nie. Dit was ‘n waagstuk, want televisie is ‘n snaakse ding. Mens weet nooit vooraf hoe iemand gaan oorkom as ‘n aanbieder nie. As jy ‘n karakter moet vertolk, kry jy ‘n ‘rol’, maar om jouself te speel… is jy op jou eie om karakter aan die ‘rol’ te gee.
Episode 1

Marita het vandag met vlieënde vaandels geslaag! Sy is mooi en ontspanne en spitsvondig en geartikuleerd voor die kamera. Presies die nodige bestandele vir ‘n goeie televisieaanbieder!

Net so verheug soos ons is, so verlig moet Marita ook wees. Sy was ook waarskynlik nie seker waarvoor sy haar inlaat nie. Gisteraand is sy en haar sjarmante gesin met breë gilmlagte huistoe. Ek vermoed sy is tevrede.

Dinge kan nog altyd skeefloop met die produksie. Iemand van ons kan siek word of seerkry, kameratoerusting kan onklaar raak of wegraak, dit kan woes begin storm of reën… Maar as niks vreemd of aaklig voorval nie, is ons op dreef met ‘n wenresep vir ‘n uitstekende televisiereeks!
Santé!




2 comments:

  1. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  2. Dit lyk baie lekker....ek is nou so lus vir daardie paella!

    Jacques, ek hoop alles loop reg met die Sony's..lyk my jy het die EX1 en EX3 saamgevat (wat ek kan sien op die foto's). Geniet dit man! Ek weet dit gaan great wees op TV!

    Groetnis
    Danie Pretorius
    Pretoria

    ReplyDelete