Saturday, September 18, 2010

Keurige kosse

Marike sê
Ons is in Nimes. Een van die oudste stede in die wêreld en vandag steeds ‘n lewendige werkende stad. Die simbool van die stad is ‘n krokkodil wat aan ‘n ketting onder ‘n palmboom lê. ‘n Getuienis van die reise van die vader van die stad, Keiser Augustus.

Ons ontmoet ons gaskokke op die dorpsmark. Les Halles ‘n ongelooflike mooi onderdak-mark. Glimmende groentes en helderkleurige vrugte, diepseevisse met blink lywe op marmerblaaie, rotsvissies met koei-gesiggies en giftige tentakels, vaal stukkies kalfsvleisies en groot stukke dieprooi vleissnite van die beesras wat in stiergevegte teen matadors te staan kom. Sjiek klante in duur skoene koop klein porsies wat versigtig verpak word.

Ons verfilm dat dit klap. Waar jy jou draai wink ongelooflike mooi prentjies. Stiptelik om 12uur nooi die aantreklike bestuurder van die mark ons vir ete. Die amptelike fotograaf is ook teenwoordig. Hy neem ‘n paar foto’s en ons sit formeel aan. Die disse verskyn een vir een op die tafel. Liggebraaide eendhartjies en haaslewertjies, skyfies afvalkossies in ‘n dikdermpie, gestoofde skaappeertjies. Die kameramanne se oë rek, my mond water. Tussen al die wonderlike kosse om ons, is dit wat  die Franse hier, die heel trotste op is. Die heel fynste kossies aan ons voorgesit word, is iets wat ons dikwels beskou as afval. Ek besef dat ons kookuns ‘n ver pad het om te loop.

Die volgende dag is ons donkeroggend reeds by die slagter. Hy bied ons ‘n pragtige bord gesnyde kouevleise aan. Ek neem ‘n skyfie bloedwors en ‘n klein glasie witwyn wat hy my woordeloos aanbied.

Hier kan ek enige dag bly

Les Halles se bestuurder - Stephane
Keurige kossies wat ons Suid Afrikaners nog nie
heeltemal onder die knie het nie!

Ons skiet in Les Halles mark.

No comments:

Post a Comment