Saturday, September 4, 2010

As die weer saamspeel...

Marita sê
Toe ek eergister wakker word, dog ek, ek het oornag doof geword. Alles was so vreemd stil om my, asof my kop in watte toegedraai is. Toe besef ek: nee, dis net die mistral wat ophou waai het.

Ná dié naarste van alle nare winde weer dae lank soos 'n stout kind om die hoeke van die huis gekerm het, het hy homself skynbaar uitgewoed en rustig gaan lê. Nie 'n oomblik te vroeg nie, want ek het vaagweg bekommerd begin word dat die wind steeds teen 100 km/u gaan waai as die TV-span volgende week opdaag. Dis natuurlik nie onmoontlik om buitetonele in 'n wind van 100 km/u te skiet nie, maar dis wraggies nie aangenaam nie. Ons is veronderstel om vrolike somerse tonele by markte en hawens te verfilm. Ek wil nie lyk soos 'n CNN-joernalis wat oor 'n orkaan verslag lewer nie.

Aan die ander kant, as die wind nou opgehou waai het, kan dit dalk oor 'n paar dae weer begin - net mooi wanneer ons die eerste episodes moet skiet.

Nee, kyk, nou skryf ek myself skoon benoud. Die weer bly een van die groot onsekerhede in so 'n TV-reeks. September is veronderstel om 'n goeie maand te wees vir verfilming - nie meer so ondraaglik warm nie, maar nog ver van koud; die omgewing lyk nog na somer, maar alles is rustiger met die ergste toeriste-bedrywigheid agter die rug - maar in Europa kan jy nooit té seker van die weer wees nie. Soms stortreën dit onverwags 'n paar dae lank - en hier in die vallei van die Rhone-rivier is die mistral altyd 'n onvoorspelbare element. Somer of winter, as hy wil waai, sal hy waai.

Ek troos myself dat ek met 'n ervare TV-span gaan werk wat kan improviseer wanneer dit nodig word. En gelukkig word die kern van elke episode rondom die stoof in 'n kombuis geskiet - waar selfs die moedswilligste wind ons nie kan pla nie. En as ons soms binnenshuis eerder as buite op 'n stoep of in 'n tuin moet eet, is dit tog ook nie 'n treinongeluk nie. Solank ons nie elke dag deur reën of wind getreiter word nie...

Intussen hou ek elke aand die weervoorspelling op TV met selfs meer belangstelling as gewoonlik dop - en net vir ingeval, sal ek 'n reënjas en 'n warm windjakker ook in my tas pak wanneer ons binnekort die pad vat na ons gaskokke se kombuise.

No comments:

Post a Comment