Wednesday, August 25, 2010

Werk want D-dag kom nader!

Marita sê
Terwyl die opgewondenheid onder die Suid-Afrikaanse TV-span begin opbou soos 'n Hoëveldse donderstorm, sit ek op die Franse platteland (waar almal om my steeds somervakansie hou), vasgekluister aan my rekenaar. Voordat Marike en Kie oor presies twee weke hierheen vlieg, moet ek nog 'n vrag rubrieke, artikels, kortverhale en wat nog alles klaarkry vir sperdatums in September. - want as die span eers hier is, gaan die poppe dans, die vonke spat en die hare waai terwyl ons aanmekaar reis en kook en kuier. Daar gaan beslis nie tyd wees vir rustig sit en skryf voordat ons die hele reeks klaar geskiet het nie.

Om alles erger te maak, het ons die gewone vloed van somergaste. Oorslaapgaste, kuiergaste, eetgaste, drankie-drink-gaste. Die afgelope twee weke moes ek en Alain elke dag, twee keer 'n dag,  minstens tien monde voer. En daarna skottelgoed was, opruim, kos koop vir die volgende kooksessie, weer begin kook... Goeie oefening vir MaritaKook, meen my man. Gimme a break, dis wat ek dink. 

Hoop die gaste het intussen soos mis voor die son verdwyn, skryf Antoinette ewe hoopvol uit SA. Nee, Antoinette, hulle word steeds onverklaarbaar meer, soos die Bybelse visse en brode. (Om nou by ons kostema te hou.) En nou moet ek dadelik groet en 'n paar eiervrugte in die oond gaan druk vir die caviar d'aubergine wat ons vanaand aanbied, saam met gevulde olywe en growwe patee en baie brood, vir ons volgende sessie gaste wat oor twee uur opdaag vir die lewensbelangrike Franse tradisie van l'apéro.

Dié van julle wat nie weet wat l'apéro is nie, moenie bekommerd wees nie, ons sal dit in ons kookreeks verduidelik. Watch this space...

No comments:

Post a Comment