Tuesday, August 31, 2010

In die begin

Marike sê
Mense vra dikwels waar  die idées vir televisieprogramme vandaan kom. My antwoord is dat werk, werk maak. Solank jy aanhou werk sal jy altyd genoeg idées genereer om aan die gang te bly.

Neem MaritaKook as voorbeeld.

Die SAUK het elke  kookprogram (Pampoen tot Perlemoen en Roer!) wat ek en Jaco Laubcher as Homebrew Films vervaardig het, van kykNET aangekoop en weer uitgesaai. Sodoende is ‘n lekker tydgleuf vir ‘n kookprogram op ‘n Saterdagoggend op SABC 2 gevestig.

Ek het aangeneem dat hulle meer kookprogramme in Afrikaans sou wou he en het MaritaKook voorgestel. Hulle het anders gedink en dit ten sterkste afgekeur. Ek was so afgehaal en het daarmee die programvoorstel afgeskryf.

Ek drink toevallig die volgende dag koffie by ‘n ou vriendin, Ansie Kamfer, wat ‘n uitgewer is. Sy noem dadelik dat dit ‘n lekker idée vir ‘n kookboek maak.

Met die boekmaak het ek totaal en al niks te doen nie. Maar met Ansie en Marita in beheer is daar eersdaags ‘n pragtige kookboek van Marita en haar man Alain op die rak; SOMERKOS IN PROVENCE.

Met die boek opdreef, moedig Ansie my aan om die voorstel, die keer aan kykNET voor te lê. Ek doen dit.  kykNET aanvaar die voorstel en gee opdrag dat ‘n reeks van 13 episodes vervaardig word. Teen die tyd, is ek knie-diep in die Nasionale Krugerwildtuin. Kliphard aan die werk om by SANHU (SOUTH AFRICAN NATURAL HISTORY UNIT) programinsetsels vir 50/50 op SABC 2 te maak.

Frankryk was ongelooflik vêr. Die werk wat ‘n oorseese filmskiet vereis, oneindig ingewikkeld. Antoinette (mede-eienaar van SANHU) was baie lus om ‘n kookreeks aan te pak. (Gedryf deur ‘n onblusbare begeerte om ‘n macaroon in Frankryk te eet!) Sy wou net nie aanvaar dat ek nou eerder diep in die Afrikabos wou werk aan natuurprogramme nie.

Ek het geswig, Antoinette het gesteier onder al die papierwerk wat die Franse vereis…en sieddaar…oor ‘n week vertrek ons om ‘n reeks van 13 episodes te verfilm vir kykNET; MaritaKook in Frankryk…

No comments:

Post a Comment