Marita sê
Kyk, om op my ouderdom vir die eerste keer 'n TV-aanbieder te word, is waaragtig nie perdekoop nie. Dit maak my lus om te koop en geld uit te gee, maar beslis nie op perde nie.
Nee, die afgelope maand of twee word ek aanmekaar in die versoeking gelei deur die onmoontlike beloftes van skoonheidsprodukte, al daardie roompies en vloeistowwe wat veronderstel is om jou binne twee weke twintig jaar jonger te laat lyk, al daardie advertensies in vrouetydskrifte waaroor ek nog altyd ietwat sinies geglimlag het. Want 'n TV-kamera is wreed, sê almal wat weet.
Ek wonder selfs of ek nie 'n kilo of drie moet probeer afskud voor ons begin om ons kookreeks te skiet nie - want die TV-kamera laat jou maklik vyf kilos vetter lyk, sê almal wat weet. Ek wonder of ek nie my hare nóg korter moet knip nie, want stomende kastrolle en warm oonde kan vreeslike dinge met 'n vrou se haarstyl doen, en daar gaan nie tyd wees om tussen elke twee takes na 'n kam of 'n borsel te gryp nie. Sê almal wat weet. Ek het selfs al vlugtig gewonder of ek nie my lippe moet laat tattoeëer en my wimpers permanent moet kleur nie, dan hoef ek nie nog met grimering ook te bodder as ons eers aan die skiet is nie. Want volgens almal wat weet, moet mens beslis nie 'n TV-kamera sonder professionele grimering aandurf nie.
Enough already, wil ek uitroep. Dis 'n kosreeks dié, dis nie Sex and the City nie! Hoe op aarde kan mens gewig verloor terwyl jy aan 'n kosreeks werk?!? Ek is nou al weke lank besig om geregte te toets en 'n dosyn gaskokke te help om hulle spyskaarte te kies. Ek eet nie net kos nie, ek leef en slaap op die oomblik ook kos. En selfs al sou ek ook op een of ander wonderbaarlike manier oornag vyf kilos afval ('n nare maagaandoening? nee wat, só graag wil ek nou ook nie gewig verloor nie) , sal ek dit in elk geval dadelik weer optel as ons eers aan die reeks begin skiet.
Ons gaan 'n maand lank kos kook, kos verfilm, kos gesels en – natuurlik! - ook kos eet. My mond water en my maag knor as ek net die spyskaarte lees wat die gaskokke vir my stuur. Nee wat, ek neem my nou plegtig voor om van ydelheid te vergeet. Ek gaan die hele affêre geniet, dis wat ek gaan doen. Dit klink in elk geval vir my soos die beste manier om te verseker dat toekomstige kykers dit ook geniet.
Vergeet van Sex and the City, mense. Glo my, ons gaan vir julle iets baie beter gee: Food and the French countryside. Lek solank julle lippe.
No comments:
Post a Comment