Tuesday, August 31, 2010

Kaap van Storms!!

Antoinette sê

Die halleluja poeding was skaars in die oond na my vorige blog, toe kry ek die nuus. Marike se papiere is in maar die Franse konsulaat in die Kaap wil vir Davie sien – in lewende lywe – voordat hulle hom vir ‘n visa sal oorweeg!! En die eerste afspraak wat ons kan kry is die 16de September maar ons vertrek al die 7de September!!

Ek en Marike bel al wat leef en beef wat dalk kan help, van Kaapstad tot in Cannes!! Ek bespreek dadelik vir Davie op ‘n vlug terug Kaap toe en hoop en bid dat iets of iemand tot ons redding gaan kom.

Vroeg vanoggend bel Davie se Ma, Maureen, my uit die Kaap – sy het ‘n afspraak vir Vrydag gekry!! Hoe weet ons nie, maar sy is ‘n vasberade vrou en niemand gaan in haar pad staan nie. Dankie Maureen, weereens al die mense wat help om ‘n produksie moontlik te maak.

Hulle se Afrika is nie ‘n plek vir sissies nie, maar glo my om ‘n produksie oorsee te reel val ook in daai kategorie!! Nou wag ek vir Vrydag voordat ek die helleluja poeding klaar bak!!

In die begin

Marike sê
Mense vra dikwels waar  die idées vir televisieprogramme vandaan kom. My antwoord is dat werk, werk maak. Solank jy aanhou werk sal jy altyd genoeg idées genereer om aan die gang te bly.

Neem MaritaKook as voorbeeld.

Die SAUK het elke  kookprogram (Pampoen tot Perlemoen en Roer!) wat ek en Jaco Laubcher as Homebrew Films vervaardig het, van kykNET aangekoop en weer uitgesaai. Sodoende is ‘n lekker tydgleuf vir ‘n kookprogram op ‘n Saterdagoggend op SABC 2 gevestig.

Ek het aangeneem dat hulle meer kookprogramme in Afrikaans sou wou he en het MaritaKook voorgestel. Hulle het anders gedink en dit ten sterkste afgekeur. Ek was so afgehaal en het daarmee die programvoorstel afgeskryf.

Ek drink toevallig die volgende dag koffie by ‘n ou vriendin, Ansie Kamfer, wat ‘n uitgewer is. Sy noem dadelik dat dit ‘n lekker idée vir ‘n kookboek maak.

Met die boekmaak het ek totaal en al niks te doen nie. Maar met Ansie en Marita in beheer is daar eersdaags ‘n pragtige kookboek van Marita en haar man Alain op die rak; SOMERKOS IN PROVENCE.

Met die boek opdreef, moedig Ansie my aan om die voorstel, die keer aan kykNET voor te lê. Ek doen dit.  kykNET aanvaar die voorstel en gee opdrag dat ‘n reeks van 13 episodes vervaardig word. Teen die tyd, is ek knie-diep in die Nasionale Krugerwildtuin. Kliphard aan die werk om by SANHU (SOUTH AFRICAN NATURAL HISTORY UNIT) programinsetsels vir 50/50 op SABC 2 te maak.

Frankryk was ongelooflik vêr. Die werk wat ‘n oorseese filmskiet vereis, oneindig ingewikkeld. Antoinette (mede-eienaar van SANHU) was baie lus om ‘n kookreeks aan te pak. (Gedryf deur ‘n onblusbare begeerte om ‘n macaroon in Frankryk te eet!) Sy wou net nie aanvaar dat ek nou eerder diep in die Afrikabos wou werk aan natuurprogramme nie.

Ek het geswig, Antoinette het gesteier onder al die papierwerk wat die Franse vereis…en sieddaar…oor ‘n week vertrek ons om ‘n reeks van 13 episodes te verfilm vir kykNET; MaritaKook in Frankryk…

Gaskok Lynn Chaulieu uit Espinasse-Vozelle

Lynnboerin sê
Toe ek Marita se mail begin Junie kry oor die toekomstige kookreeks en of ons belangstel om deel daarvan te wees, was ons juis vir 3 dae in die Cantal (deel van ons wonderlike Auvergne streek) besig om ander mense se kos op te smul in stede van 'Lynnboerin' wat heeldag voor die kospotte is.

En toe moes ek  froggie man Olivier ingelig dat die Suid-Afrikaanse tv by ons gaan uitslaan. Sal nie hier sy komentaar lewer nie – julle sal maar moet wag en dit 'direk' kry.

En net na ek ja gesê het vir Marita, het ek dadelik begin koue voete kry!! Wou eers summier uitdraai maar toe maar die skouer aan die wiel gesit. En moes 'n spyskaart uitdink wat vir almal pas sodat indien iemand dit dalk wil herhaal daar onder in my geboorteland, hulle al die bestanddele sal kan kry!

 Ai ai en dit gaan gebeur na een van die mees hoppende seisoene wat ons hier in ons gastehuis al gehad het die afgelope sewe jaar. Gelukkig is ons op pad na 'n piepklein eilandjie aan die Franse weskus waar ons net gaan  fietsry, vis eet en boeke lees en niks doen nie. Sal sodoende my kraggies opbou vir die spannetjie wat hier net na middel September se kant hier gaan uitslaan.

En nou moet ek bysê, ek begin al klaar 'flip' oor my Afrikaans want na 20 jaar in Frogland, is die nie meer die vinnigste op my se tong nie en wat as ek 'vlaters' maak? En gaan ek myself goed kan uitdruk in hierdie moedertaal van my wat nou al so paar ander trekkies bygekry het.

Maar nou ja, gedane sake het geen keer en ek hoop dat ons 'n paar bottels wyn sal uitdrink voor die tyd sodat ek nie 'stagefright' kry nie!


Ons gastehuis se webwerf:
http://www.jardins-des-thevenets.com/My blog:
http://autourdelatabledhote.blogspot.com/


Monday, August 30, 2010

Hallelujaaaaaaaa!!

Antoinette sê
Die helfte van die poeding is in die oond!!

Viva le France
Ek sê helfte, omdat ek en Jacques gister ons visums by die Franse konsulaat in Johanneburg gekry het!! Dit was erg senutergend – terwyl ek in die visum kantoor se wagkamer op ons ‘interview’ wag, wys die Franse amptenaar agter die toonbank 5 voornemende reisigers weg omdat hulle nie die regte papierwerk het nie!! Toe dit my beurt is glimlag ek mooi, sê ‘bonjour’ in my beste Frans, vertel vir hom van die vroeg opstaan en lang reis vanaf Skukuza na Johannesburg die oggend,  handig my hompe papiere in en hoop vir die beste. Groot was my verligting toe als goedgekeur is en twee ure later is die Schengen visums in ons paspoorte!! Viva le France!!

More is dit Marike en Davie se beurt by die Franse konsulaat in Kaapstad.

Sunday, August 29, 2010

Roer!!!

Marike sê

O ja…. Ek het ‘n kookboek saamgestel wat nou op die rakke is. 

Dit bestaan uit ‘n keur van die lekker resepte wat gemaak is deur die glanspersoonlikhede wat saam met Tammy in die immergewilde Roer! gekuier het.

Kyk hoe lyk MaritaKook!!

Antoinette sê 
Ons logo
Ons program logo in wording….wat dink julle? Ons talentvolle grafiese kunstenaar Philip ‘Philter’ Erasmus doen sy ding. Ons opdrag was, vat al die bestandele van die reeks, sit dit in ‘n pot en kook….en wie kon raai dat hy presies weet wat ons soek. Kan nie wag om die res te sien nie!

Te midde alles verjaar my seun Nicholas en ons hou Saterdagaand partytjie in Skukuza. Die kostema is ‘hot dogs & hamburgers’. Ek weet nie of dit al die toerusting in- en uitpak, of die opgewondenheid oor Frankryk is nie, maar Davie is katjie van die baan in ‘n baie Franse uitrusting en Jacques is die veerpyltjie kampioen!!
Philip "Philter" Erasmus ons grafiese genie

Katjie van die baan - David
More dou voor dag Johannesburg toe vir ons visa afspraak en hopelik teen Dinsdag is meeste van die ‘formele’  papierwerk in plek en ons kan ons tasse begin pak!
Jacques die veerpyltjie kampioen



Friday, August 27, 2010

Somerkos!

Marike sê

Marita se pragtige kookboek, SOMERKOS IN PROVANCE sal in die middel van Oktober op die rakke wees.

Marita se kosboek
Die leefstyl fotos is beeldskoon en die kos lyk onweerstaanbaar – ek hou duimvas ons besoek van die plekke en kook van die disse raak met die opnames van MaritaKook!

Diep Ondergrond……

Antoinette sê
Vir die afgelope paar dae was ek diep ondergrond begrawe tussen  papierwerk!! Terwyl Marita vir gaste van oral kook en skottelgoed was, Marike logos en visas in die Kaap uitsorteer en Jacques en David kamera toerusting pak en weer pak, epos ek onophoudend!!!

Net toe ek dink alles is so te sê, min of meer, amper daar……toe gebeur dit!! Die visas moet terug van die Kaap want ek en Jacques moet in Johannesburg aansoek doen omdat ons in Mpumalanga bly, die toerusting het ‘n paspoort of carne nodig, om die land te verlaat en iewers moet iemand ons help met die oorgewig!!! So begin die week op ‘n vals noot.

Jacques & David & die kamera toerusting.
Teen vandag bak ek amper die Halleluja poeding!!  Marike pos ons paspoorte en die pakkie arriveer danksy die poskantoor se Speed Services die volgende dag veilig in Skukuza. Ek en Jacques kry ‘n afspraak vir komende Maandag by die Franse Ambassade vir ons visas. Ons wonderlike persoonlike banker, Vanessa, by First National Bank in Hazyview sorteer binne twee dae ons carne se waarborg uit en die ongelooflike behulpsame Samuel en Glenallee van die “South African Chamber of Commerce and Industry” sorteer die carne binne ‘n dag uit.

En die kersie op die koek… tussen Ingrid en Ralf by Air France word ons oorgewig toerusting uitgesorteer!!

Nou nog net die visas en siedaar die Halleluja poeding is in die oond!

Wat het ek vroeer gesê van al die mense agter die skerms!! BAIE  BAIE DANKIE AAN ELKEEN VAN JULLE!! Ons dra MaritaKook aan julle op.

Seks in die Stad!!

Marita sê

Kyk, om op my ouderdom vir die eerste keer 'n TV-aanbieder te word, is waaragtig nie perdekoop nie. Dit maak my lus om te koop en geld uit te gee, maar beslis nie op perde nie.

Nee, die afgelope maand of twee word ek aanmekaar in die versoeking gelei deur die onmoontlike beloftes van skoonheidsprodukte, al daardie roompies en vloeistowwe wat veronderstel is om jou binne twee weke twintig jaar jonger te laat lyk, al daardie advertensies in vrouetydskrifte waaroor ek nog altyd ietwat sinies geglimlag het. Want 'n TV-kamera is wreed, sê almal wat weet.

Ek wonder selfs of ek nie 'n kilo of drie moet probeer afskud voor ons begin om ons kookreeks te skiet nie -  want die TV-kamera laat jou maklik vyf kilos vetter lyk, sê almal wat weet. Ek wonder of ek nie my hare nóg korter moet knip nie, want stomende kastrolle en warm oonde kan vreeslike dinge met 'n vrou se haarstyl doen, en daar gaan nie tyd wees om tussen elke twee takes na 'n kam of 'n borsel te gryp nie. Sê almal wat weet. Ek het selfs al vlugtig gewonder of ek nie my lippe moet laat tattoeëer en my wimpers permanent moet kleur nie, dan hoef ek nie nog met grimering ook te bodder as ons eers aan die skiet is nie. Want volgens almal wat weet, moet mens beslis nie 'n TV-kamera sonder professionele grimering aandurf nie.

Enough already, wil ek uitroep. Dis 'n kosreeks dié, dis nie Sex and the City nie! Hoe op aarde kan mens gewig verloor terwyl jy aan 'n kosreeks werk?!? Ek is nou al weke lank besig om geregte te toets en 'n dosyn gaskokke te help om hulle spyskaarte te kies. Ek eet nie net kos nie, ek leef en slaap op die oomblik ook kos. En selfs al sou ek ook op een of ander wonderbaarlike manier oornag vyf kilos afval ('n nare maagaandoening? nee wat, só graag wil ek nou ook nie gewig verloor nie) , sal ek dit in elk geval dadelik weer optel as ons eers aan die reeks begin skiet. 

Ons gaan 'n maand lank kos kook, kos verfilm, kos gesels en – natuurlik! - ook kos eet. My mond water en my maag knor as ek net die spyskaarte lees wat die gaskokke vir my stuur. Nee wat, ek neem my nou plegtig voor om van ydelheid te vergeet. Ek gaan die hele affêre geniet, dis wat ek gaan doen. Dit klink in elk geval vir my soos die beste manier om te verseker dat toekomstige kykers dit ook geniet. 

Vergeet van Sex and the City, mense. Glo my, ons gaan vir julle iets baie beter gee: Food and the French countryside. Lek solank julle lippe.

Thursday, August 26, 2010

Die wêreld is ons produksiekantoor

Marike sê
Vreemd hoe klein die wêreld geword het. Gekrimp deur die ongelooflike vooruitgang van moderne tegnologie.
Ek is in die Riebeekvallei in die Swartland, Marita is in Provance in die suide van Frankryk, Antoinette is in Skukuza in die Krugerwildtuin en ons kykNET base, Karin Meiring en Feroza Katz is in Johannesburg. Saam is ons besig om die produksie te rëel vir die filmskiet in Frankryk volgende maand.

Tegnologie het die uithoeke van die wye wêreld omkring in een groot produksiekantoor.

Die pragtige Provance
Gisteraand het ek geSkype met my kind Therese in Kanada, ‘n vriendin Dee in Londen en ‘n vriendin Lieza (wat op produksie is) in Lagos. Ons het gereël aan ons Kersvakansie in Nature’s Valley, asof om ‘n pot tee.
Riebeeck Vallei

Wie op aarde sou dit kon begryp voor die ingrype van die mikroskyf in ons lewens. En nog is dit het einde niet…
Sonsondergang in die Krugerwildtuin

Wednesday, August 25, 2010

Werk want D-dag kom nader!

Marita sê
Terwyl die opgewondenheid onder die Suid-Afrikaanse TV-span begin opbou soos 'n Hoëveldse donderstorm, sit ek op die Franse platteland (waar almal om my steeds somervakansie hou), vasgekluister aan my rekenaar. Voordat Marike en Kie oor presies twee weke hierheen vlieg, moet ek nog 'n vrag rubrieke, artikels, kortverhale en wat nog alles klaarkry vir sperdatums in September. - want as die span eers hier is, gaan die poppe dans, die vonke spat en die hare waai terwyl ons aanmekaar reis en kook en kuier. Daar gaan beslis nie tyd wees vir rustig sit en skryf voordat ons die hele reeks klaar geskiet het nie.

Om alles erger te maak, het ons die gewone vloed van somergaste. Oorslaapgaste, kuiergaste, eetgaste, drankie-drink-gaste. Die afgelope twee weke moes ek en Alain elke dag, twee keer 'n dag,  minstens tien monde voer. En daarna skottelgoed was, opruim, kos koop vir die volgende kooksessie, weer begin kook... Goeie oefening vir MaritaKook, meen my man. Gimme a break, dis wat ek dink. 

Hoop die gaste het intussen soos mis voor die son verdwyn, skryf Antoinette ewe hoopvol uit SA. Nee, Antoinette, hulle word steeds onverklaarbaar meer, soos die Bybelse visse en brode. (Om nou by ons kostema te hou.) En nou moet ek dadelik groet en 'n paar eiervrugte in die oond gaan druk vir die caviar d'aubergine wat ons vanaand aanbied, saam met gevulde olywe en growwe patee en baie brood, vir ons volgende sessie gaste wat oor twee uur opdaag vir die lewensbelangrike Franse tradisie van l'apéro.

Dié van julle wat nie weet wat l'apéro is nie, moenie bekommerd wees nie, ons sal dit in ons kookreeks verduidelik. Watch this space...

“Welkom op die blog, Davie!

Marike sê
Maybe I should explain the pic with me pointing at his forehead.

We have been living and working in the Kruger National Park for the past 6 months, while producing television inserts for the SABC’s environmental programme, 50/50. Our topics ranged form filming programmes on rhinos, elephants and anthrax. We shared our yard with warthogs, elephants and hyenas and our golf course with crocodiles, hippos and the occasional leopard or lion. Sometimes were were out long after dark to have a sundowner at Lake Panic with it’s resident hippos or hyenas on their way to dinner.

Never did anyone get hurt, but one week back in dangerous Cape Town and David rocks up for our production meeting with a massive black and blue shiner on his forehead. A souvenir from the party the night before.

Leer jou niks – wys jou net!”

Tuesday, August 24, 2010

David Says 
Hi, I'm David, the Camera/Sound/Tough Guy... I'm not really the writer type but I'll give it a go. I would like to let you know what I have been up to while down in Cape Town.

19th August, Marike and I met up with on-line editor Jaco Laubscher to sort out the workflow, for me to meet him and just listen to each others ideas. We went to a "Rasta" type restaurant, Jamaican-Me-Crazy, got a meal and had a chat. "KleinJaco", as people call him apparently, was a lekker guy, really professional, with cool ideas. All in all the meeting went well and I feel confident he will get the program looking slick.

22nd August, meeting with my buddy, Philip "Philter" Erasmus, that is going to design the graphics for MaritaKook. We met in the heart of Cape Town where all the "cool" people hang...Kloof Street, at a place called Cafe Sofia. 

Philter had done a few designs and had a fantastic idea for the logo and some cool ideas for the intro sequence and marketing strategies. I have known Phil for a long time and I'm very confident in his amazing design skills, and ideas, so I'm super positive he is going to be helping us with the program, he is a definite asset.

Things are looking positive for the trip, and I'm sure with the strong editing and graphics in good hands, we will be delivering an amazing program.

Thursday, August 19, 2010

Die week hardloop weg!


Antoinette sê
Ek kan nie glo dit is al Donderdag nie! Die dae vlieg verby en daar is nog so baie om te doen voordat ons op die vliegtuig kan klim.

Die visa aansoekvorms is oppad Kaap toe en hopelik het ons teen volgende week die tyd ons Schengen visas en kan Frankryk  invaar...askuus, invlieg!!  Jacques is druk besig om al die toerusting bymekaar te kry en het vanoggend vir my gesê dit is ‘n aardige spulletjie. Sit daarby almal se skootrekenaars, kameras en selfone en ons het kompleet ‘n mobile ateljee!

David, ons ander kameraman en rekenaar fundi, is op die oomblik in die Kaap en het gister die Franse padkaarte vir die GPS by Cape Union Mart in Tygervallei sentrum gaan koop. David soek nou vir min of meer drie weke na die kaarte op die internet en kom toe uiteindelik so op Cape Union Mart se webwerf af. Hy vra verskillende winkels in Mpumalanga en die Wes-Kaap of hulle die skaars padkaarte aanhou en/of vir ons kan bestel. Verskeie kwotasies kom terug van die winkels in Nelspruit en Witbank. Die prys R1 600 +!! Die uiters noodsaaklike item, waarvoor ons nie oorpronklik begroot het nie maar waarsonder ons nie gaan klaarkom in die Franse platteland nie, moet aangekoop word. David het nog probeer navors of ons dit nie vir goedkoper direk van die internet af kan kry nie, toe kry hy Tygervallei se kwotasie, ‘n hele R1000 goedkoper!!! Nou vra ek vir jou met trane in my groot bruin oe, hoe is dit moontlik. Diesefde winkel, dieselfde land maar ‘n R1000 verskil tussen Mpumalanga en die Wes-Kaap! Wie is besig om vir wie hier deur die ore te werk? Ek het nog altyd gedink Mpumalanga is die duurste provinsie in die land, maar dit is bietjie dik vir ‘n daalder. Nietemin, ons het ons kaarte en kan ry waar ons moet! (Hoop die stemhet ‘n Franse aksent!!)

Gister kry ek ‘n epos van ons reisagent, Lyndill Greenfield van Flight Centre in Stellenbosch, wat vir my vertel dat al die konslutante in hulle winkel gek is na ons blog, maar wil weet hoekom ek nie na haar briljante diens verwys het nie. Ek besef toe weereens dat ‘n televisie produksie op so baie mense agter die skerms staatmaak om ‘n sukses daarvan te maak. Lyndill, baie dankie vir jou flinke diens met al ons reisreelings – ons waardeer dit!!

Monday, August 16, 2010

Voorbereidings op volstoom!

Antoinette sê
More, Dinsdag, oor drie weke vertrek ons, en die papierwerk op my tafel wil nie minder nie! Het ook nie vandag by die visa aansoekvorms uitgekom het nie.

Ek het darem Jacques se vliegtuigkaartjie geboek gekry nadat ons verlede week lelik ‘gedrop’ is deur die kamerapersoon wat ons laat weet het sy sien nie meer kans vir die lekker avontuur nie! Verbeel jou jy sê nee vir Frankryk! Ek loop oor die Pyrenees vir die voorreg, maar die jonges dink dalk anders!


Marike is vandag Kaap toe vir die vrystelling van haar pragtige tweede Roer kookboek. Ek mis haar al klaar maar gelukkig is ons een van die dae op die vliegtuig oppad Frankryk toe!

Friday, August 13, 2010

Vrydag die 13de stel nie teleur nie!

Marike sê
Ek weet nie hoekom Vrydag die 13e so ‘n slegte naam het nie. Vir my was dit nog altyd die heel beste dae.

Toe ek vanoggend wakker word en besef dit is Vrydag die 13e, weet ek, al ons produksieprobleme gaan soos mis voor die son verdwyn. En dit was ook so.

Ons kameravrou het kop uitgetrek en wonderlike, ervare, wel berese, goed georganiseerde Jacques Goosen het ingestem om die kookreeks in Frankryk te verfilm.


Skielik is dit ‘n nuwe speelveld. Behalwe dat hy ‘n baie goeie kameraman is sal hy ook die kameratoerusting met gemak deur doanne en aksyns hanteer,  hy sal navigeer en die motor bestuur in die Franse platteland en seker maak ons vergeet nie stukkies toerusting langs die pad nie. Als takies wat ek en Antoinette tussen ons sou moes verdeel. Nou is ons vry om al ons aandag net op die produksie te spandeer –  dit wat voor die kamera gebeur.

Vrydag die 13e het my weereens nie teleurgestel nie.

Thursday, August 12, 2010

'n Droom bewaarheid...


Antoinette sê
Ek hou van resepteboeke, kos en kosmaak. Dit was nog altyd ‘n droom om ‘n lekker kosreeks te vervaardig. Hier waar ons in die bos bly en meestal wilde diere verfilm, het ek al gedink dit gaan dalk net ‘n droom bly! Maar toe kom Marike bos toe vir ‘n rukkie. Die rukkie word toe ‘n paar maande van lekker saamwerk, MaritaKook gebeur so tussen alles deur en my droom word waar! Dankie Marike en Marita!

Van ons eerste vergadering vroeg in Mei met die wonderlike mense van kykNET tot vandag, het MaritaKook eers stadig en nou op volstoom begin “lyf” kry. Sy is nou al ‘n lywige dame op ‘n drafstap! Geen produksie is net maanskyn en rose nie. Tussen al die konsepte, begrotings, kontrakte, skedules, reisplanne, visas, verblyf soek ens. moet jy kophou soos ‘n dronk weeluis. Marita het gelukkig ‘n wonderlike kook-skedule van Frankryk af gestuur wat alles soveel makliker gemaak het.

Al die nodige bestandele vir ‘n televisie wenresep!

Marike sê
En so word dit ‘n werklikheid. Oor minder as ‘n maand is ons in Frankryk. In die asemrowende mooi suide van Frankryk om ‘n televisie kosreeks vir kykNET te verfilm met bekroonde skrywer en tuiskok Marita van der Vyver.

Dit was ‘n lang pad.

Met die ongekende sukses van ROER! op kykNET was dit duidelik dat Suid Afrikaanse kykers nog nie moeg is vir kookprogramme nie. Veral leefstyl kookprogramme. Met die mooie Tammy as aanbieder en Suid Afrikaanse bekendes as haar gaste, is die plaaslike mark gedek. Dan maar oor die water, en waar beter as Frankryk. Daar woon baie Suid Afrikaners (om ‘n Suid-Afrikaanse aansluiting te verskaf) die platteland is asemrowend mooi (om die agtergrond te verfraai) en Marita van der Vyver woon en werk daar (alles wat sy doen is ‘n groot sukses) Al die nodige bestandele vir ‘n televisie wenresep!

kykNET het die program voorlegging aanvaar en ons opdrag gegee om ‘n reeks van 13 programme in Frankryk te vervaardig ‘MARITA KOOK’ is geloods toe Marita van der Vyver instem om die program aan te bied.


Dit was die maklikste deel.  Nou om alles gereel te kry…