Marita sê
Noudat ons eerste episode agter die rug is, vertel hulle my met groot verligting watter waagstuk dit eintlik was om my te vra om aanbieder van die reeks te wees... Asof ek dit nie geweet het nie! Asof ek nie al weke lank snags wakker lê en wroeg oor die las wat op my skouers rus nie!
Noudat ons eerste episode agter die rug is, vertel hulle my met groot verligting watter waagstuk dit eintlik was om my te vra om aanbieder van die reeks te wees... Asof ek dit nie geweet het nie! Asof ek nie al weke lank snags wakker lê en wroeg oor die las wat op my skouers rus nie!
Kyk, ek was darem al dikwels op TV, maar dit was nog altyd aan die 'maklike' kant. Gewoonlik moet ek bloot die vrae antwoord wat TV-aanbieders my vra oor my boeke of my lewe in Frankryk of wat ook al. As die onderhoud flop, só het ek myself nog altyd getroos, is dit mos nie my skuld nie. Dié keer, het ek voor my siel geweet, moet ek as aanbieder sórg dat die onderhoud werk. En nie net 'n enkele onderhoud nie, maar 'n hele ingewikkelde reeks waar 'n groot verskeidenheid van mense betrek moet word!
Dis waarom ek in so 'n toestand was voordat ons eergister begin skiet het. Dis waarom ek my sus Hanna gesoebat het om my hand te kom vashou, om my net deur die eerste dag of twee te kry, te help groente skil en moed inpraat. En sy het sowaar gekom - al die pad uit die verre Namibië. Vergeet die moeder, wat is 'n huis sonder 'n suster? Vra ek julle vandag met trane in my oê.
En toe ek ná die eerste laaaang dag voor die kameras die TV-span se gloeiend gunstige verslag kry - A star is born, SMS Antoinette my so ewe - het ek en Hanna geskaterlag van verligting. Bietjie oud om nou eers gebore te word, het ek vir my sus gesê, maar nou ja, liewers laat as nooit nie, nè. En toe herinner sy my aan daardie sin uit een van Cat Stevens se liedjies waarna ons jare gelede aanmekaar geluister het: Look at me, I'm old but I'm happy...
No comments:
Post a Comment