Daar word vertel die Franse glo hulle is die stylvolste nasie in die hele wêreld met die beste lewensstyl van almal. Dat niemand die lewe behaag soos hulle nie. Na ‘n maand in Frankryk, vind ek nie veel om dit te betwis nie.
Ons reise met die filmskiet is al amper 4000 km vêr. Ons het begin in die suide van Frankryk, aan die Middelandse see, toe tot amper in die middel van die land by Aurillac en toe weer na die Atlantiese oseaan en ons eindig aan die hange van die Pyrenees-berge. Ek is oortuig; die Franse verstaan die kuns van lewe.
Ons was twee dae op vakansie. Marita moes huis-toe en ons het besluit om Biarritz te besoek. ‘n Pragtige kusdorpie waar Prins Edward VIII, Hertog van Windsor, en voormalige Koning van Engeland en Wallis Simpson gereeld gekuier het. Vandaar is ons na St Sebastian in Spanje. Sommer net vir die dag oorgery vir inkopies. Die verskil tussen Frankryk en Spanje was opmerklik. Skielik is daar inwoners met denimbroeke en tekkies, kitskos en wegneemetes, mense in die straat, haastig iewers heen, selfoon aan die oor, koppie plastiekkoffie in die ander hand. Jongmense wat op straathoeke uithang en uit plastiekomhulsels iets te ete afsluk.
Natuurlik is Spanje ‘n fantastiese, vooruitstrewende, gekultifeerde land. Net soos die meeste ander lande van die wêreld. Maar dit is net nie heeltemal soos Frankryk nie.
Ons was vandag by twee boere in die omgewing van Pau aan die voete van die Pyrenees-berge. Een ‘n vroutjie en haar familie wat boer asof tyd nog altyd stilstaan. Vooruitstrewende boere. Doening. Duiwehokke in die dak van die huis, byekorwe in die buitemure, kaalnekhoenders, eende, ganse, makoue en koeie, neutbome en hase sonder name vir die pot bedoel.
Daarna doen ons aan by ‘n man wat as jong seun ‘n skaapwagter was. Vandag verouder hy kaas in ‘n ‘saloir’ waar 10,000 skaapmelkkase geberg word. Die kase is groot en rond en verskil in smaak afhangende van wat die skape eet. Boere van die omgewing bring hulle klaargemaakte kase soontoe. Hy verouder dit volgens EU standaarde. As die kaas ryp is kom haal die boere dit weer om te verkoop. Vir sy moeite hou die formareur 3 uit 10 kase.
Dis ‘n wonderlike land die. Klink my die enigste klagte wat ons gasheer en –vrou, Simon en Isebelle Browne, het, is dat die lappies mielies, geplant in die klowe en dale tussen die hoë bome van die natuurlike bos, vir veevoer bedoel is. Die Franse kan nie groenmielies aan die stronk eet nie. Hulle weier botweg om met die hand te eet. Geen mark wil dus groenmielies aanvaar nie
Ek weet darem nie of ek vir die lewe kans sien sonder my pa se groenmielies na die somer nie!
No comments:
Post a Comment