Toe ek Vrydag ry om Jaap (my man) in Avignon te gaan haal vir die kokery Saterdag in Vals-les-Bains was ek heeltemal nie in die regte rat vir die kook-affêre nie. Tot op die laaste oomblik was daar geen tyd vir voorbereidings nie. Jaap moes nog ’n gradeplegtigheid by Leiden Universiteit bywoon en ek was vir ’n paar dae met selfopgelegde solitary confinement in Chateau d’Ermenonville, daar waar Jean Jacques Rousseau sy laaste dae deurgebring het. Sometimes a girl has to do what a girl has to do, en kook was die laaste ding op daai kasteeldae-agenda. Lees en skryf was wat ek wou doen.
Terwyl ek Vrydag vanaf Ermenonville (net noord van Parys) Avignon toe ry, bel Jaap om te sê dat hy sy aansluiting in Parys gemis het as gevolg van ’n stukkende trein en waarskynlik eers na middernag in Avignon sou arriveer. Boonop het my navigasiesisteem opgepak en moes ek op geheue die pad Avignon toe aandurf. Toe ek gelukkig sonder enige mishaps daar aankom het ek in die TGV-stasiegebou by ’n restourantjie myself met ’n glas wyn beloon (welverdien ná die 8 uur rit, het ek myself wysgemaak) en begin lees aan ’n nuwe resensieboek. Die wyn was lekker en die boek was mooi – so, toe Jaap wie weet hoe laat daar opdaag was my bui nie te sleg nie. Maar toe moes ons weer die lang pad terug Vals-les-Bains toe en dit was behoorlik laat toe ons doodmoeg by die huis instrompel en in die bed val.
Terwyl ek rondrol om aan die slaap te raak het ek begin wonder: is daar goeie en genoeg eetgerei, borde, opskepbakke, is daar hoegenaam ‘n tafeldoek in die huis, ens ens ens. Ons was lanklaas daar en in die vakansietye gee mens mos nie om waaruit of waarmee jy eet nie. Maar dié keer sou die TV-kameras op alles inzoom. En toe ek nog op die blog lees van een van die deelnemers wat haar kombuis laat herstruktureer het vir die kookepisode het ek nie geweet of ek moet lag of huil nie.
Na ’n onrustige nag het ons Saterdagoggend gou die resepte weer bekyk en gaan inkopies doen vir die disse wat ons afgespreek het om te maak en so vinnig-vinnig by die kombuiskaste ingeloer om te kyk of daar darem nog genoeg heel borde is. Toe Marita, Alain en Mia laatmiddag aankom het dinge erg begin skeefloop en het ek begin vermoed dat die hele spulletjie in ’n fiasko sou ontaard. Eers kon hulle nie ons huis kry nie. Die GPS wil nie ons adres lees nie – seker besef dié mense is nie voorbereid genoeg nie. Later het ons in die pad gaan staan om hulle te keer as hulle dalk sou verbyry – die huis is afgeleë en versteek agter bome. Hulle het nooit verbygekom nie.
Ons het toe maar besluit om hulle onder in die dorp te gaan haal. Daar gekom kon óns húlle weer nie kry nie. Uiteindelik het ons afgespreek dat ons sou wag by Beatrix, die bekende roomysplek in die dorp en dat Marita-hulle sou aanwysings vra oor hoe om daar te kom – dis ’n bekende plek, enige iemand sou hulle kon help. Die eerste persoon wat hulle vra was só dronk dat hy nie kon onthou waar Beatrix was nie, die volgendes was almal toeriste en daarom nie behulpsamer as die eerste nie. Ons gee instruksies via die telefoon, maar hulle casino vanwaar af ons hulle verduidelik is toe nie die casino by die hotel soos wat ons dink nie, maar die Casino-winkel wat op ‘n heel ander plek is. Gee toe maar die straatnaam, maar besef later daar’s twee strate in die dorp met ‘n soortgelyke naam en soos Murphy dit wou hê beland hulle toe natuurlik by die verkeerde van die twee. Intussentyd hou ons kontak op ons selfone, maar selfoonbatterye het ook maar ’n beperkte uithouvermoë en mettertyd het die soektyd in Vals-les-Bains die reistyd van Marita-hulle se huis af begin verbysteek en later het selfs die dronkie by wie hulle vroeër probeer kersopsteek het al by ons verbygestrompel gekom.
Groot was die verligting toe ons mekaar uiteindelik raakloop en hulle rooi Citroën ons blou Clio’tjie met die konkelpaadjie langs, heuwel op, huis toe volg. Maar die ware verligting sou eers kom nadat hulle almal deur die toilet is, want die nood was toe behoorlik hoog na al die rondsoekery. Daar’s eers gepiepie en toe gesoen!!
Gelukkig hoef ons nie nog aandete voor te berei nie, want Jaap het vir ons by een van ons gunsteling restaurantjies in die pragtige Antraigues, waar Jacques Brel dikwels vakansie gehou het, bespreek. Maar Murphy het besluit dat hy met die voet wat hy al klaar in die deur het die hele poort gaan oopskop, en toe ons by die restourant aankom is dit gesluit. Later sou ons uitvind dat ons bespreking by ’n totaal ander resourant in ’n ander dorp was. Die verkeerde telefoonnommer op die verkeerde website! Alles verkeerd. Daar is goddank nog ’n restaurant in die dorpie. Daar aangekom is ons gou vertel dat dit vol bespreek is. Maar, sê die kelnerin, aan die onderpunt van die dorpie is nog ’n restaurantjie waar ons waarskynlik geholpe sou word. Daar aangekom is die plek dolleeg en dit het nie lank geduur voordat ons uitgevind het waarom nie. ’n Matrone-agtige tante wag ons in by die voordeur – asof ons met haar ’n afspraak gehad het en ons laat was - en dryf ons (dit kon net sowel met ’n koekroller in die hand gewees het) soos ’n troppie dom bleekoog bokke in die drukgang voor die toilette verby en in die restourant in en marsjeer ons na ’n tafel toe. Daar sal ons sit en daar sal ons stil sit, sê haar ferm gesigsuitdrukking en haar kwaai vet armpies. Ons vra vir die spyskaart. Sy sê daar’s geen spyskaart nie en haar nekvelle wapper. Marita vra versigtig en ordentlik of sy miskien dalk net vir ons kan sê wat daar te ete is. Nee, sê Matrone, sy hoef niks te sê nie, want daar’s geen keuse nie. Eet sal ons eet; en as ons nie tevrede is nie weet ons waar die deur is. En is daar ook iets vir kinders, wil Mia weet. Nee, sy’s ‘n kind en sal deel met haar ouers. Klaar gepraat. Afgehandel. G’n ekstra kos op kinders verspil nie, hulle eet tog nooit hulle borde leeg nie, hmpfff! En dan gryp sy die gedekte wynglase voor Mia weg net vir ingeval die arme mooie meisiekind dalk vingermerke daarop sou plant.
Die gedekte wynglase gee ons hoop. Mag ons die wynkaart sien, vra Jaap huiweriger as wat ek hom nog ooit hoor vra het, want wyn is waarskynlik ons enigste redding teen dié tante. Nee, ook ‘n wynkaart bestaan nie. Boonop kyk sy hom aan asof hy haar die mees onbehoorlike vraag gevra het wat ’n man ooit ’n vrou kan vra. Ons sal drink wat sý vir ons bring om te drink, in die volgorde wat sy dit bring, en ons sal dankbaar wees. Na ’n rukkie kom plak sy ’n bottel rooiwyn op die tafel. Jaap skink maar vir homself ‘n bodempie in om te proe, omdat sy dit uiteraard nie gaan doen nie. Op daardie moment besef ons almal die totale absurditeit van die situasie want as die wyn nie goed is nie sou ons beslis nie die moed hê om dit terug te stuur nie - ons bars onbedaarlik uit van die lag en vir die res van die aand het ons soos ‘n klompie stout kinders in die hoek gesit en giggel totdat een van ons sou sê “tjips, tjips, hier kom sy” dan’t ons gou-gou ons elmboë van die tafel gehaal, netjies geëet, fyn slukkies geneem en gedemp gefluister.
Matrone het die hele aand lank haar yster septer oor ons tafel geswaai. Mia moes hoor, toe sy vir ’n tweede glas koeldrank vra, dat dit ongesond is om twee glase koeldrank te drink – basta daarmee, dus; Jaap moes hoor dat hy té groot stukke kaas gesny het en is ten aanhore van die res van die tafels wat intussentyd vol geword het en met die nodige bypassende teatrale armflappery, stapelstapelgek verklaar; Marita is oor die vingers getik omdat sy haar bord aangegee het voordat die instruksie gegee is; en aan my is gevra of ek háár miskien uitlag of waarom giggel ek so. Alain was die witbroodjie. Hy’t nooit raasgekry nie. O nee wag, hy het tog een keertjie deurgeloop toe hy aan die einde van die eerste gang klaskapteinagtig gewaag het om te sê die kos was lekker. Met ’n snork geluid in sy rigting het Matrone hom goed laat verstaan dat sy nie op sy komplimentjies te wagte staan nie en dat hy dit liewer vir homself kan hou. Natúúrlik is haar kos uitstekend, vir wat moet hy daaroor praat.
Aan die einde van die aand moes ons tot ons skok hoor dat sy nie kredietkaarte aanvaar nie en om onder haar oog die skade te bereken, neem Jaap toe alle beursies toilet toe om die kontant te gaan tel. Dit het bietjie lank gevat, want daar was veral baie bronsgeld. Maar ook die tellery is kortgeknip toe Matrone teen die toiletdeur begin stamp en vra of hy dalk aan die slaap geraak het. As hy wil geld tel moet hy dit maar voor haar doen.
Wat was dit ’n aand van ongelooflike pret, die heerlikste 5-gang maaltyd en prima wyn, en ek vermoed stof tot ’n pragtige verhaal vir Marita. Lag-lag is ons huis toe waar ons die musiek hard aangedraai en begin dans het. Soos kinders wie se ouers weg is vir die naweek. Die begin van twee beautiful dae.
Toe die res van die span Sondagoggend opdaag was die Kaap Hollands – reg daar in die Ardeche – en het ons sóveel pret gehad... ons het ‘n falliese fontein meters hoog sy bronwater die lug in sien spuit; ons het op die mark rondgeflenter en geskinder oor ‘n suur oompie wat ons nie wou toelaat om hom te fotografeer nie omdat ons hom nie mooi genoeg gegroet het nie; ons het verdwaal oppad na ‘n bokplaas wat ons nooit gekry het nie, maar in plaas daarvan baie mooier shots kon maak; ons het gebak en gebrou en geskil en geskud en gesny en geroer en gekook. Oja, kook was mos eintlik die ding waarvoor ons daar was. En ook lekker gesmul en wyn gedrink. Ons vroue het onophoudelik gekwetter maar sonder dat daai mooie Marita, Marike en Antoinette ooit hul professionele fynkyk, fyndoen en fynpraat verloor het. Die manne moes maar noodgedwonge stillerig op die agtergrond hover, maar totaal effisiënt in die uitvoer van hul werk. Arme mooi jong David moes op ’n stadium al ons vrouens se gelyke instruksies op ’n al hoër wordende toon aanhoor; hy’t ons net so bietjie skepties aangekyk met daai bene-lam-maak oë van hom, sy kop geskud, ‘n slukkie bier geneem en aangegaan op sy eie manier. Ai tog, daar’s min dinge wat so mooi is as om uit die hoek van jou oog ‘n deliciously gorgeous man te bekyk wat ernstig aan die werk is en met presisie en konsentrasie sy skills tot vervolmaking bring. Miskien sal ek fotografie opneem as my volgende tydverdryf. Maar dan wil ek saam met David en Jacques werk. Ag was dit nou nie ‘n heerlike paar dae! En nou is my eie stunning hunk van ‘n Jaap ook terug huis toe en sit arme ek hier stoksielsaligalleen in die kliphuis teen die heuwel bokant Vals-les-Bains. Elke nou en dan lag ek weer hardop.
No comments:
Post a Comment